VISIE

Om Laerskool Kameelfontein te vestig as ‘n skool met ‘n Christelike etos waar kwaliteit onderrig in ‘n unieke leeromgewing aan alle leerders verskaf word, sodat hulle volle potensiaal op beide akademiese en nie-akademiese gebied bereik word.

 

MISSIE

  1. Ons wil ons visie bereik deur ouers en die gemeenskap te begeester om die skool op alle wyses te ondersteun in die strewe om die visie te verwerklik.
  2. Om standaarde vir leerders op alle vlakke binne en buite die klaskamer dinamies te handhaaf.
  3. Om uitnemende opvoeding deur middel van kwaliteit onderrig, voorligting en fasilitering deur gekwalifiseerde, entoesiastiese en verantwoordelike opvoeders te verskaf.
  4. Om opvoeders aan te stel wat die bogenoemde eienskappe openbaar om sodoende aan ons visie gestalte te gee.
  5. Om ons leerders te bemagtig om as ‘n geheelmens te ontwikkel om hul plek in die samelewing te vervul.

 

WAARDES

K – Kameraadskap

A – Ambisie

M – Mededeelsaamheid

M – Maniere

I – Integriteit

E – Entoesiasme

S – Selfrespek

Laerskool Kameelfontein het in 1912, net tien jaar ná die Anglo-Boereoorlog, sy ontstaan gekry met mnr. Hoogewind as die eerste, nie-amptelike onderwyser. Mnr. H.G.F. Enslin het as die eerste hoof gedien, terwyl mej. J.M.S. Norton die eerste amptelike onderwyseres was.

Te midde van die rustige bosveldomgewing lê ’n skool met ’n hart – Laerskool Kameelfontein. Wat hierdie skool so besonders maak, is nie net sy ryk geskiedenis of sy trotse prestasies nie, maar die mense wat dit dra: toegewyde onderwysers, lojale ouers en opregte, spelende kinders met sterk waardes.

Hier leef tradisie en vooruitgang hand aan hand, en elke leerder word gesien as méér as net ’n nommer – hulle is deel van ’n hegte gemeenskap waar groei, karakter en saamwees belangriker is as blink geboue of groot begrotings.

Deur die jare is daar verskeie mylpale bereik: van die eerste steenklaskamer in 1933, die koshuis in 1936, tot die aansluiting by Eskom in 1977. Die 1980’s het groot ontwikkelinge gebring, soos die swembad, eetsaal en ‘n nuwe administratiewe gebou. In 2009 het die koshuis uiteindelik sy deure gesluit omdat daar net ses kinders oor was, maar die skool het bly groei.

In die beginjare het die skool van plaas tot plaas geswerf – eers in 1926 het dit vaste grond onder die voete gekry toe oom Rooi Hans Prinsloo grond vir ‘n skool geskenk het.

Die vroeë geskiedenis is deels verlore ná ‘n weerligstraal een van die rondaweltjies getref het en belangrike dokumente vernietig was. Tog het die skool – ten spyte van moeilike tye – gegroei, danksy ‘n toegewydheid van ouers, onderwysers en die wyer gemeenskap.

In 2022 is ‘n museum ingewy wat die ryk geskiedenis bewaar, terwyl ‘n nuwe skooldrag die moderne era ingelui het.

Vandag spog ons met ‘n skool waar kinders nog kaalvoet speel, waardes geleer word, en gemeenskapsin sterk staan.

Soos oud-hoof, mnr. Lingenvelder, eens gesê het: “Ons het nie baie geld nie, maar ons het baie sports.”

En dít, saam met lojale ondersteuning en ‘n unieke bosveldkarakter, maak Kameelfontein nie net ‘n skool nie – maar ‘n tweede tuiste.”