Welkom by Laerskool Kameelfontein – waar onderwys nie net ’n plig is nie, maar ’n roeping; waar kinders nie net leer nie, maar lééf.
Waarheen gaan ’n boer – of enige ouer – as hy nie meer ’n vrou soek nie, maar ’n skool vir sy kroos? Waarom sukkel tussen die stad se beton en gejaag, as jy jou asem kan verloor van verwondering? Hier, net buite die stad, vind jy ’n plek waar kinders kaalvoet, vry en gelukkig grootword — waar die enigste ding wat krap, die gras onder hul voete is.
Ons visie is om ’n skool met ’n sterk Christelike etos te vestig waar kwaliteit onderrig in ’n unieke, landelike leeromgewing aan elke leerder gebied word, sodat hulle hul volle potensiaal bereik — akademies én op sport- en kultuurgebied.
Ons missie leef ons daagliks uit deur hoë standaarde binne en buite die klaskamer te handhaaf, deur gekwalifiseerde en entoesiastiese opvoeders aan te stel, en deur saam met ons ouers en gemeenskap te werk om elke kind as ’n geheelmens te bemagtig.
Ons is ’n hegte gemeenskap met ’n kultuur van liefde en omgee. Elke juffrou ken elke kind op die naam. Ons waardes — Kameraadskap, Ambisie, Mededeelsaamheid, Maniere, Integriteit, Entoesiasme en Selfrespek — vorm die hartklop van ons skool en rigtingwyser van ons kinders se toekoms.
Kom kuier gerus. Dis ’n fees om ’n Kammie te wees!

115+
jaar oud
350+
Kaalvoet Leerders
35+
Personeelede
