By Laerskool Kameelfontein se Algemene Inligting-blad vind u alles wat u moet weet om deel te wees van ons trotse Kammie-gemeenskap. Hier deel ons praktiese inligting oor skoolure, skooldrag, kommunikasie, beleid, prosedures en daaglikse reëlings, sodat elke ouer en leerder met duidelikheid en gemoedsrus hul skoolreis kan aanpak. Ons glo dat goeie kommunikasie en duidelike riglyne ’n belangrike deel vorm van ’n suksesvolle en gelukkige skoolervaring.
SKOOLTYE
Gr R: Maandag tot Vrydag: 7:45 – 12:45
Gr 1 – 2: Maandag tot Vrydag: 7:30 – 13:00
Gr 3 – 7: Maandag tot Donderdag: 7:30 – 13:45
Gr 3 – 7: Vrydag: 7:30 – 13:15
INSKRYWINGS
By Laerskool Kameelfontein verwelkom ons elke nuwe Kammie met ope arms en oop harte. Hier is elke kind vir ons kosbaar. Ons glo daaraan om elke Kammie op die naam te ken, hul sterkpunte raak te sien en saam met hulle ’n pad van groei en ontdekking te stap.
Kom neem deel – leer saam, speel saam, lag saam en word deel van ’n opregte Kammie-raad. Hier bou ons nie net kennis nie, maar ook karakter. Ons stuur gelukkige, gebalanseerde kinders die hoërskoolwêreld in – kinders met selfvertroue, deursettingsvermoë en die moed om hul man te staan en hul eie ding te doen.
Ons sien uit daarna om julle deel van ons Kammie-familie te maak!
Dokumente wat die inskrywingsvorm moet vergesel:
- Wettige ouers/voogde se ID-dokumente (’n fotostaat van elk saam met die oorspronklike ID-dokument. Indien een van die benoemde nie betrokke is in die kind se lewe nie, moet dit asseblief met ons bespreek word.)
- Geboortesertifikaat van kind/ers
- Kliniekkaart
- Oorplasingsertifikaat van vorige skool
- Laaste rapport
- Bewys van adres
Ons sien uit daarna om saam met julle hierdie besondere reis te begin!
NASKOOL
NASKOOL KAMELE – Sedert 2011
Naskool Kamele is ’n privaat nasorgsentrum wat op die terrein van Laerskool Kameelfontein geleë is – gerieflik, veilig en in ’n beheerde omgewing. Hier ontvang leerders daagliks betroubare toesig en ondersteuning in ’n omgee-atmosfeer waar elke kind geken en waardeer word.
Naskool Kamele fokus op:
- Veiligheid in ’n gestruktureerde omgewing
- Akademiese ondersteuning met huiswerk- en leerwerkbegeleiding (met ’n jaarlikse 90% Top 10-gradering)
- Voorsiening van middagete
- Gesonde speeltyd en ontspanning ná ’n besige skooldag
Registrasie is enige tyd van die jaar moontlik.
Vir meer inligting, kontak gerus Me. Magda Krüger, eienaar van Naskool Kamele:
📞 072 242 8604
✉️ magda.kruger@hotmail.com
BESKIKBARE AANVULLENDE DIENSTE
By Laerskool Kameelfontein glo ons dat elke leerder uniek geskape is en die geleentheid moet kry om sy of haar volle potensiaal te bereik. Daarom is ons besonder bevoorreg om aanvullende professionele ondersteuning op ons terrein beskikbaar te hê.
Ons skool geniet die ondersteuning van ’n gekwalifiseerde spraakterapeut, arbeidsterapeut en spelterapeut wat leerders tydens skooltyd met terapie help. Hierdie diens maak dit vir ouers gerieflik en verseker dat leerders die nodige hulp ontvang sonder om waardevolle onderrigtyd onnodig te verloor.
Ons onderwysers werk nouliks saam met die terapeute as ’n toegewyde span. Deur gereelde kommunikasie en samewerking kan uitdagings vroegtydig geïdentifiseer, en doelgerigte ondersteuning so vinnig moontlik, geïmplementeer word. Ons glo vas dat hoe vroeër ’n leerder ondersteuning ontvang, hoe beter en vinniger is sy of haar akademiese, emosionele en sosiale vordering.
Alhoewel die terapeute op ons skoolterrein gebasseer is, funksioneer hulle in ’n private hoedanigheid en word afsprake en reëlings direk tussen hulle en ouers getref.
By Laerskool Kameelfontein stap ons graag die ekstra myl om seker te maak dat elke kind die ondersteuning kry wat nodig is om met selfvertroue en vreugde te leer en te groei.
Vir meer besonderhede kontak gerus:
Zelda Wolmarans – Spraakterapeut
083 507 7626
Harmanda Bekker – Arbeidsterapeut
082 325 4610
Claudi Davel – Spelterapeut
082 332 4629
SKOOLDRAG
Somer:
| Seuns: | Dogters: |
| Hemp: Blou gholfhemp met wapen | Hemp: Blou gholfhemp met wapen |
| Broek: Navy, kort | Romp: Navy romp of broekromp |
| Skoene: Swart skoolskoene – bandjie of toeryg GEEN TEKKIES | Skoene: Swart skoolskoene – bandjie of toeryg GEEN TEKKIES |
| Kouse: Navy | Kouse: Navy |
(Skoene en kouse is opsioneel)
Winter:
| Seuns: | Dogters: |
| Hemp: Blou gholfhemp met wapen | Hemp: Blou gholfhemp met wapen |
| Broek: Navy langbroek of
Sweetpakbroek |
Romp: Navy romp of broekromp, navy
langbroek of sweetpakbroek |
| Kouse: Lang navy | Kouse: Lang navy; of navyblou
broekiekouse |
| Trui: V-Nek (koningsblou) | Trui: V-Nek (koningsblou) |
| Pull-Over: Koningsblou | Pull-Over: Koningsblou |
| Dri-Mac: Koningsblou | Dri-Mac: Koningsblou |
| Sweetpakbaadjie | Sweetpakbaadjie |
| Skoene: Swart skoolskoene – bandjie of toeryg
Slegs 90% wit of swart tekkies mag saam met ‘n sweetpak gedra word. |
Skoene: Swart skoolskoene – bandjie of toeryg
Slegs 90% wit of swart tekkies mag saam met ‘n sweetpak gedra word. |
Skooldrag is beskikbaar by een van twee verskaffers:
sCool Stuff – 012 567 1101
Montana Boulevard Centre, Phase 2 Shop 3B, 1031 Silvergrass Street, Magalieskruin
ANTEX – 083 306 8085
49 Cathie street, Bronkhorstspruit
Pasgroottes en bestelvorms beskikbaar in die skoolkantoor.
AFLAAIBARE INLIGTING
Inskrywingsvorms
- Kammie Kleuter Akademie
- Laerskool Kameelfontein
Beleide
- Admissions Policy
- Learners code of conduct Policy
- Constitution of SGB
- Financial Policy
- Language Policy
- Learner Attendance
- Religion Policy
- Domesic and International Tours for Public Schools
- LTSM 2021
- School Assessment Policy
VERKORTE GEDRAGSKODE VAN LEERDERS
(‘n Volledige gedragskode is by die kantoor beskikbaar)
1. GESAMENTLIKE OPENING
• Opening vind op Maandagoggende plaas.
• Leerders tree voor skool aan in klasverband sodra die klok lui om 7:30.
• Ordelikheid en ‘n gewyde atmosfeer is ‘n vereiste.
• Die opening word waargeneem deur die onderwysers op ‘n roterende basis.
2. GEWOONTEVORMENDE MIDDELS
• Geen middels mag gebruik word wat ‘n bedwelmende effek mag hê en nie deur ‘n mediese praktisyn voorgeskryf is nie, soos byvoorbeeld drank, ‘vape’, energiedrankies ens.
3. KLASWISSELING
• Die leerders moet in rye die klaslokale verlaat. Eerste die dogters daarna die seuns.
• Die leerders tree in rye aan voor die klaslokaal.
• Die onderwyser gee goedkeuring vir die leerders om in te stap.
• Geen geselsery of spelery mag gedurende klaswisseling plaasvind nie.
• Leerders mag nie op die stoepe of gange hardloop nie.
• Leerders mag nie speelgoed of enige diere saambring skool toe nie.
4. POUSE
• Leerders sit hulle tasse netjies in rye voor die klasse neer waar hulle na pouse sal wees.
• Daarna verlaat hulle die stoepe en gaan na die speelterrein.
• Dogters en seuns speel apart in ouderdomsgroepe.
• Geen gevaarlike speletjies mag gespeel word nie, insluitend ‘Open the gate’, tackle rugby, rofstoei, harde balle, stokke, bats ens.
• Leerder/s mag nie met harde balle (bv. krieketballe, gholfballe) speel nie.
• Skoene mag nie op die speelterrein uitgetrek word nie, slegs in klaslokale. Indien skoene of klere op die speelterrein uitgetrek word en verlore raak, aanvaar die skool geen verantwoordelikheid daarvoor nie.
• Handjietennis mag slegs op die toegewysde areas gespeel word.
• Leerders mag nie gedurende pouse in die personeelkamer kom nie.
• Leerders mag nie met enige toerusting soos grassnyers, besproeiingstoerusting ens. speel of peuter nie.
• Leerders mag nie gedurende pouse tussen die geboue speel nie.
• Aan die einde van pouse lui die klok. Leerders beweeg dadelik klas toe sonder om te hardloop. Enige insident wat tydens pouse plaasvind, moet by die onderwyser aan diens aangemeld word.
• Gr. R, Gr.1 en Gr.2 leerders speel op hulle eie terrein. Geen ander leerders, behalwe die leiers, word daar toegelaat nie.
5. AFWESIGHEID VAN LEERDERS
• Geen leerder mag die skoolterrein verlaat sonder toestemming nie.
• Indien ouers hulle leerder/s gedurende skoolure kom haal (slegs vir noodgevalle of noodsaaklike afsprake), moet hulle by die skool se administratiewe kantoor uitgeteken word.
• Leerders wat laat by die skool aankom, moet eers by die kantoor aanmeld en ingeteken word deur die ouer. Die kantoor sal dan die leerder klas toe stuur nadat hy/sy ingeteken is.
• Indien ouers vooraf weet hulle leerder/s gaan afwesig wees, moet hulle die skool skriftelik in kennis stel.
• Mediese sertifikate kan vereis word indien ‘n leerder vir ‘n tydperk van 3 dae of meer afwesig is.
6. KLASTYD
• Lesperiodes moet optimaal benut word vir onderrig en werk deur die leerders.
• Leerders mag nie in klastyd rondloop of gestuur word nie.
• Indien ‘n leerder klas verlaat vir enige rede, moet hy/sy ‘n lanyard/kaartjie dra wat sal aandui dat hul toestemming het om nie in die klas te wees nie.
• In dringende gevalle mag leerders die kleedkamers besoek mits hul ‘n lanyard/kaartjie het.
7. SELFONE
• Geen elektroniese toestelle, slim horlosies of selfone word tydens skooltyd toegelaat nie. Indien ‘n leerder se selfoon gehoor of gesien kan word in klastyd, sal die foon gekonfiskeer word en die ouers kan die selfoon by die kantoor kom afhaal, na die toepaslike boete betaal is.
• Leerder mag nie self met haar/sy ouers/voog kontak maak deur middel van hulle selfone gedurende skoolure nie, die kontak moet deur die skoolkantoor geskied.
• Slegs tydens Kwartaal 3 sal Gr. 4 – 7 leerders streng gekontroleerde toegang tot elektroniese toestelle of selfone toegestaan sal word wanneer hul aan hul projekte werk.
8. GEBOUE EN TERREIN
• Geen vandalisme word toegelaat nie.
• Leerders mag nie sonder toestemming die swembadterrein betree nie.
• Die terrein en geboue moet netjies gehou word. Geen rommel mag rondgegooi word nie.
• Leerders mag nie in die middag tussen die geboue speel nie.
• Leerders mag nie in die skoolsaal of klasse kom sonder toestemming nie.
• Geen leerder mag op enige plek BEHALWE voor die kantoor wag vir hul ouers nie.
9. KLEEDKAMERS / BADKAMERS
• Die kleedkamers moet te alle tye netjies en skoon wees.
• Die dogters en seuns se kleedkamers word elke dag deurlopend skoongemaak deur ‘n vroulike skoonmaker.
• Personeel op speelgronddiens moet daagliks inspeksie doen by die kleedkamers. Probleme moet onmiddellik gerapporteer word.
• Leerders mag nie gedurende skoolure of na skool by of in die kleedkamers speel nie.
10. TOILET BESOEKE
• Dit moet tot ‘n minimum in klastyd beperk word sodat onnodige rondlopery voorkom word.
• Leerders met gesondheidsprobleme moet toegelaat word om te gaan wanneer dit nodig is. ‘n Brief van ‘n mediese praktisyn moet ingedien word by die skoolkantoor.
• Daar mag nie twee leerders gelyk uit die klas wees nie.
• Leerders wat die toilet tydens klastyd besoek, moet ‘n lanyard/kaartjie dra.
11. ONTOELAATBARE DINGE BY DIE SKOOL
• Kougom binne of buite die klas, asook op die sportveld.
• Die skool aanvaar geen verantwoordelikheid vir speelgoed wat breek of verlore raak nie want dit mag nie skool toe gebring word nie.
• Strokiesverhale (comics)
• Gevaarlike speelgoed bv. ketties, gooi sterre, messe, speel gewere, harde balle ens.
• Bakleiery word nie geduld nie en moet aan die personeel aan diens gerapporteer word.
• Leerders mag nie rook, vape, dwelms of enige ander middels wat ‘n bedwelmde effek mag hê, gebruik nie.
• Geen uitspattige kleredrag te alle tye tydens skoolaktiwiteite nie. Dit sluit in skoolaktiwiteite wat nie op die skoolterrein plaasvind nie.
• Nie-skoolpligtige leerder/s (boeties en sussies van leerders) mag nie saamkom skool toe, of op die skoolterrein wees nie.
• Slagdoppies, lonte en patrone of wapens.
• Reptiele, spinnekoppe, enige wilde of mak troeteldiere. Dit is die ouer se plig om die dier dadelik te kom haal en te verwyder van die skoolterrein.
• Giftige plante of blomme.
• Gholfstokke.
• Rolskaatse of skaatsplanke.
• Geen glasbottels bv. koeldrankbottels mag op die terrein of in klaslokale gebring word nie.
• Geen fisiese kontak – geen drukkies, soentjies, betasting ens.
12. TOESLUITKASSIES
• Leerders mag slegs tydens pouse, voor- en na skool, hul boeke en skryfbehoeftes uit hul toesluitkassies uithaal.
• Geen leerders word by die toesluitkassies tydens klaswisseling toegelaat nie.
13. GEWONE DRAG-DAE
• Tydens gewone drag-dae moet leerders se hare netjies vas wees.
• Geen kort hempies waar die maag wys nie.
• Geen rompies korter as 4 vingers bo die knie nie.
• Geen kortbroeke waar die bo-been heeltemal sigbaar is nie. Die kortbroek mag slegs 4 vingers bo die knie wees.
14. SKOOLKLERE
• Leerders moet te alle tye die korrekte skoolklere dra (winter of somer)
• Indien leerders verkeerde skooldrag dra sal die skool die ouers bel. Leerders sal gehaal moet word of korrekte kleredrag sal skool toe gebring moet word.
• Die leerder wie nie die korrekte skooldrag aan het nie of nie behoorlik pas nie, sal gevra word om dit uit te trek en, indien moontlik, sal die regte klere uit die klerebank vir die leerder gegee word. Ouers sal gebel word om korrekte kleredrag te bring.
• Leerders moet gedurende elke fisiese oefeningsperiode (PT), Kammiesdrag dra. Op die dae wat hul PT het, moet leerders hul Kammies-drag dra tensy dit ‘n fotodag is.
• Slegs klein goue oorbelletjies (studs) mag gedra word deur die dogters. ‘n Klein seëlringetjie mag ook op eie risiko gedra word deur die dogters. Geen ander juweliersware is toelaatbaar nie.
• Leerders mag nie uitspattige horlosies dra nie.
• Hare moet te alle tye vasgemaak en mooi netjies gesny wees. Seuns se hare moet mooi netjies en kort gesny wees.
• Geen kleur, ‘highlights’, ‘undercuts’, ‘man-buns’, krale, ‘dreadlocks’, ‘z-snye’, ‘comb-overs’, weermagsnit, of enige ander mode-haarstyl is toelaatbaar nie.
• Slegs eenstuk swembroeke vir dogters is toelaatbaar.
GEDRAGSKODE – OUERS
GRONDWET: Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet no. 108 van 1996.
1. INLEIDING:
Laerskool Kameelfontein se gedragskode is gerig uitsluitlik op die skepping van ‘n harmonieuse en gedissiplineerde skoolomgewing, waarin die leerder deur middel van die opvoeder en ouers, sy volle potensiaal kan bereik. Verder skep dit ‘n maatstaf waardeur die gedrag van leerders, ouers, opvoeders en bestuur gemeet kan word.
2. DOEL VAN DIE BELEID:
Die daarstel van ʼn stel skriftelike reëls en beginsels oor dissipline, griewe en gedrag in die algemeen. Dit het betrekking op die natuurlike ouer van die leerder en/of die voog van die leerder en/of iemand wat ‘n wettige aanspraak het op die sorg en beheer van die leerder. Om die ouers te laat besef dat onderlinge samewerking tussen ons en die ander persone wat by die opvoeding en onderwys van ons leerders betrokke is, alleenlik suksesvol kan wees as alle partye ooreenkom in die nastrewing van ons waardes en beginsels. Terwyl ouers daarvan bewus is dat hulle oor sekere regte beskik in terme van die Grondwet, erken hulle ook dat ander mense soortgelyke regte het en respekteer hulle hierdie regte.
3. WETSVEREISTES VAN DIE BELEID:
WET: Die Suid-Afrikaanse Skolewet (Wet no. 84 van 1996).
4. IMPLEMENTERING VAN DIE BELEID:
ELKE OUER VAN LAERSKOOL KAMEELFONTEIN VERBIND HULLE TOT:
• Die opvoeding van leerders tot verantwoordelike en selfstandige besluitnemers.
• Die kweek van ‘n pligsbesef by leerders.
• Die handhawing van dissipline by leerders.
• Die hantering van die opvoeders en bestuur met die nodige respek.
• Die aanvaarding van die skoolreëls en -beleide en die bevordering daarvan by die leerders.
• Respek vir die skoolomgewing en die skoolfasiliteite.
• Die erkenning van die multi-kulturaliteit en andersheid van mede-ouers en dat hulle so sal optree dat hulle nie die menswaardigheid van ander ouers sal aantas nie.
• Die respektering vir nie-onderwyspersoneel en besoekers. Die bydraes tot die gladde verloop van die skoolorganisasie deur administratiewe personeel en terreinwerkers word hoog aangeslaan, daarom sal ouers ook hierdie personeel met agting hanteer.
5. REGTE VAN OUERS:
• Om op die beheerliggaam te dien indien demokraties verkies.
• Om te verwag dat die standaard van onderwys korrek en in lyn is met die beginsels soos vervat in die skolewet.
• Om gereeld op hoogte gehou te word ten opsigte van die vordering van sy/haar kind by die skoolaktiwiteite of selfs gedragsafwykende gedrag indien dit openbaar word.
• Om enige probleme per afspraak eers met die betrokke onderwyser te bespreek, daarna met die departementshoof en uiteindelik met die skoolhoof, op so ’n wyse wat die integriteit en regte van alle betrokkenes respekteer.
• Om deel te neem in die besluitnemingprosesse en funksies soos van tyd tot tyd deur die skool verlang.
6. VERANTWOORDELIKHEDE VAN OUERS
• Om aan hulle kind/ers ‘n veilige en geborge opvoeding te gee waarmee die leerder/s se volle potensiaal ontwikkel kan word.
• Om toe te sien dat hul kind/ers daagliks skool bywoon en, indien hulle afwesig is, dit aan die skool te kommunikeer. Indien ’n leerder vroeg die skool moet verlaat, moet die ouer self die nodige reëlings telefonies (geen WhatsApp of e-pos) met die kantoor tref. Ouers moet by die kantoor aanmeld en mag nie self die leerder by die klas gaan haal nie, maar moet by die kantoor wag sodat die leerder geroep kan word. Dit bly die ouer se verantwoordelikheid om te verseker dat enige werk wat gemis word, ingehaal word.
• Ouers wat reeds hul kind/ers uitgeteken het of hul kind/ers ná skool ontvang het, aanvaar self die volle verantwoordelikheid vir hul toesig en veiligheid. Sodra ’n leerder aan die ouer oorhandig is, mag hy/sy nie meer op die skoolterrein rondhardloop of speel nie.
• Om aan te meld by die kantoor indien dit nodig is om op die skoolterrein te wees tydens skoolure. Geen ouer mag onaangemeld tydens skoolure op die skoolterrein rondbeweeg nie.
• Om toe te sien dat gereelde akademiese rapporte van die vordering van die leerder ontvang word en dit ook met die onderwyser en leerder te bespreek.
• Om toe te sien dat die leerder gesond en skoon is en dat hy/sy geïmmuniseer is soos vereis deur die Gesondheidsdepartement.
• Om toe te sien dat die leerder/ers die nodige toerusting het om hulle klaswerk en tuiswerk te doen. Geen leen van skryfbehoeftes word toegelaat nie.
• Om enige verandering in die leerder se omstandighede onder die aandag van die skool te bring.
• Om die skool te voorsien van die nodige telefoonnommers, adresse en geboortesertifikate en om ook te verseker dat enige veranderinge dadelik opgedateeer word.
• Ons is ‘n skoolfonds-betalende instansie dus om maandeliks die leerder se skoolgeld te betaal of, indien nodig, reëlings met die Finansiële komitee te tref.
• Om ‘n positiewe verhouding te kweek tussen die leerder, die onderwyser en die skool deur aktief betrokke te raak by die aktiwiteite van die skool.
• Enige skade aan die geboue, en ander toerusting deur die leerder, sal deur die ouer vervang of herstel word.
• In enige wederregtelike optrede sal die bestaande landswet geld.
• Geen ouer mag ‘n ander leerder op die skoolterrein dissiplineer, vermaan of dreig nie.
• Die gebruik van drank tydens geleenthede waar leerders betrokke is, is streng verbode. (Die uitsondering is: Wanneer ‘n sosiale geleentheid aangebied word en ‘n spesifieke terrein vir hierdie doel ter syde gestel word).
• Die skoolterrein is ‘n rookvrye zone dus geen rook of ‘vape’ word toegelaat nie.
• Om te verseker dat hulle kinders altyd die korrekte skooldrag sal aan hê.
• Om te verseker dat hul kind by die skoolreëls en gedragskode hou.
7. OPTREDE TEEN OUERS/AFRIGTERS/BEAMPTES WAT DIE GEDRAGSKODE OORTREE:
• Enige persoon wat die gedragskode oortree, op welke wyse ookal, moet so gou moontlik by die Skoolbestuur aangemeld word vir verdere ondersoek. Ouers moet nie die reg in eie hande neem nie.
• Optrede:
o Informele gesprekvoering
o Formele gesprekvoering
o Waarsk uwing – Skriftelik
o In uiterste gevalle kan optrede na die diskresie van die Skoolbestuur plaasvind.
• Ons personeel by Laerskool Kameelfontein streef na hartlike samewerking met die ouer van elke leerder onder ons sorg. Ons sal alles moontlik doen om die ouerlike gesag te handhaaf, die leerders se vertroue te bevorder en om die ouers voldoende op hoogte te hou van hulle leerder se vordering.
8. BETROKKENHEID BY BUITEMUURSE AKTIWITEITE EN SPORTBYEENKOMSTE
• Die deelname van leerders aan enige buitemuurse aktiwiteit is ‘n voortsetting van die opvoedingsproses. Daarom is die optrede van ouers langs die veld/baan van uiterse belang, om nie aanstoot te gee nie.
• Ouers onderneem dus om hulself te weerhou van opmerkings teenoor die skeidsregters en ander toeskouers en ander persone tydens sportbyeenkomste en hulle ook te weerhou van geweldadige, onwelvoeglike en lasterlike taal en gedrag. (Sien volledige sportbeleid.)
9. BESOEKE AAN DIE SKOOL OM OPVOEDERS TE SPREEK:
Skakel vooraf om ‘n afspraak te reël. Ouers moet te alle tye by die kantoor aanmeld. Geen ouer mag direk na ‘n onderwyser se klas gaan nie. Indien die skoolhoof teenwoordig moet wees, moet ‘n afspraak by die skoolkantoor gemaak word.
10. AANVAARDING VAN VERANTWOORDELIKHEID (van Gedragskode van leerders en ouers)
Die Gedragskode moet deur beide ouers of voogde onderteken word en saam met die leerder deurgegaan en aanvaar word. Ouers en voogde is ook verantwoordelik om self die Gedragskode deeglik deur te lees en hulself sowel as hul kind/ers gereeld daaraan te herinner.
